Categories

Articles on Simply Slim in the Beeld newspaper

The senior medical reporter at the Beeld newspaper, Antoinette Pienaar, has written a number of superb articles while following the Simply Slim saga. We have kindly been given permission to reprint them here. A central theme throughout this sage is that Simply Slim will not accept responsibility for any of their actions: the impact of their contaminated product on human health, or whether there is sufficient evidence of efficacy and safety of the product. They are simply concerned with making money. Indeed, comparing their claims in adverts, press-releases and spin by their PR rep, Lance Rothchild, it is clear that one cannot trust much about what this company says. Don't believe me? Read for yourself.

To translate into English, go to http://www.google.co.za/language_tools?hl=en and copy and paste this url into the “Translate a web page” section.

 

4 May 2010
Simply Slim-aansoek teen mededinger misluk
Antoinette Pienaar

Die maatskappy Simply Slim se aansoek om ’n mededinger met ’n hofbevel te keer om sekere bemarkingsmateriaal en -metodes te gebruik, is gister van die hand gewys.

Regter Francis Legodi van die hooggeregshof in Pretoria het bevind Simply Slim kon nie bewys hy het ’n "goeie reputasie" om teen die optrede van die verspreider van die verslankingsmiddel Super Slim te beskerm nie.

Legodi het Simply Slim ook met ’n kostebevel gestraf.

Simply Slim het aangevoer HACJ Accounting Software Services en sy direkteur, mnr. André Coetzee, gebruik Google-soektogtegnieke om mense met die woorde "simply" en "slim" na sy hoodia-verslankingsproduk (Super Slim) te lei en "mislei en verwar" die publiek ook met sy soortgelyke bemarkingsmateriaal.

Coetzee en HACJ het aangevoer Simply Slim het "die hof nie met skoon hande genader nie" omdat die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) verkope van die Simply Slim-verslankings- produk opgeskort het.

Dit was nadat sibutramien in Simply Slim-besendings gekry is. Die MBR het geëis dat die produk as medisyne geregistreer word.

Simply Slim beweer hy mag steeds sy ou en ’n nuwe plaaslik vervaardigde verslankingsproduk verkoop omdat hy kennis gegee het dat hy teen die MBR-besluit wil appelleer en die besluit dus opgehef is. HACJ en Coetzee het aangevoer wetgewing bepaal die MBR-besluit staan totdat dit omgekeer word.

Die MBR het verlede maand in ’n mediaverklaring gesê Simply Slim mag nie sy verslankingsproduk verkoop voordat dit behoorlik geëvalueer is nie. Dit het nog nie gebeur nie.
Die regter het gister gesê Simply Slim se reaksie daarop, ’n verklaring waarin hy beweer hy mag aanhou om die nuwe en ou produk te verkoop en sê hy wil die MBR hof toe vat, is "skokkend, om die minste te sê".

Legodi het bevind Simply Slim kon nie bewys hy het die frase "Simply Slim" gebruik voordat HACJ die frase "you can simply slim down today" in Januarie verlede jaar gebruik het nie.
Simply Slim besit ook nie die domeinnaam ww.simplyslim.co.za, wat hy wil beskerm, nie, is bevind.

Simply Slim gaan teen die bevel appelleer.

 

30 April 2010
Simply Slim hof toe oor Super Slim
Antoinette Pienaar

Die maatskappy Simply Slim het vandeesweek ’n mededinger in die hooggeregshof in Pretoria getakel omdat dié glo sy bemarkingsukses met die hulp van Google-soektogtegnieke misbruik.

Die saak in die hof vir dringende sake het daartoe gelei dat Simply Slim moes bontstaan om sy twis met die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) te verduidelik.

Simply Slim het aangevoer die verspreider van Super Slim, HACJ Accounting Software Services, en sy direkteur, mnr. André Coetzee, gebruik Google-soektogtegnieke om mense met die woorde "simply" en "slim" na sy Hoodia-verslankingsproduk te lei en "mislei en verwar" die publiek.

Die maatskappy vra dat HACJ en Coetzee met ’n hofbevel verbied word om die soektogtegnieke te gebruik en soortgelyke bemarkingsmateriaal as Simply Slim te gebruik.

Simply Slim het in hofstukke beweer hy het al miljoene rande aan bemarking bestee en het 320 000 klante met ’n omset van R28 miljoen in November en R42,8?miljoen in Januarie gehad.

Adv. Cedric Puckrin SC het namens Super Slim aangevoer HACJ gebruik die frase "simply slim down today" sedert Januarie verlede jaar in sy bemarkingsmateriaal, voordat Simply Slim op die mark gekom het.

Simply Slim het ook aangevoer Super Slim gebruik soortgelyke foto’s as hy, maar volgens Super Slim is die foto’s van ’n vrou in ’n bikini ’n katalogusfoto wat enigeen kan koop.

Super Slim het ook beweer Simply Slim verkoop nie ’n "wettige" produk nie omdat die MBR sy verkope opgeskort het nadat die voorskrifmiddel sibutramien in besendings gekry is.

Hy het aangevoer Simply Slim het doelbewus die feit dat die MBR sy verkope opgeskort het uitgelaat in sy hofaansoek en dit eerder laat blyk dat hy en die MBR nou saamgewerk het terwyl dit volgens Super Slim nie die geval was nie.

Simply Slim het die laaste tyd beweer hy mag sy nuwe plaaslik vervaardigde verslankingsmiddel, asook sy ou middel, verkoop omdat hy teen die MBR se besluit (om sy verkope op te skort) geappelleer het en die besluit dus outomaties opgeskort is.

Hy het in hofstukke beweer "derde partye" het "grys produkte", wat met sibutramien besmet is, ingevoer en dit het onverklaarbaar by sy agente beland.

Puckrin het aangevoer dat MBR-besluite staan totdat dit deur ’n appèlproses omgekeer word. Simply Slim word dus verbied om sy verslankingsmiddel te verkoop tensy sy appèl teen die MBR-besluit slaag.

Regter Francis Legodi lewer Maandag uitspraak.

 

20 April 2010
Verkoop nog Simply Slim, sê sy hoof
Antoinette Pienaar

Die uitvoerende hoof van Simply Slim sê die maatskappy sal die regskoste betaal van enige agent wat in hegtenis geneem word omdat hy hul nuwe verslankingsproduk verkoop.

Mnr. Justin Adriaanse het die naweek in ’n kennisgewing op die maatskappy se webwerf gesê daar is geen rede hoekom agente verkope moet staak nie.
Volgens hom is die maatskappy ná regsadvies "100% seker die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) het onwettig en te kwader trou opgetree".

Dit was nadat die departement van gesondheid verlede week in ’n verklaring gesê het Simply Slim mag steeds nie sy verslankingsproduk verkoop nie.
Die MBR het, nadat sy inspekteurs glo sibutramien in die middel gekry het, verkope van die middel opgeskort.

Die maatskappy mag nie die produk verkoop alvorens die MBR dit nie vir veiligheid, gehalte en doeltreffendheid geëvalueer het nie. Simply Slim het onlangs ’n nuwe plaaslik vervaardigde produk met dieselfde naam bekend gestel en dreig nou om die MBR hof toe te vat.

"Julle as agente het geen rede om te voel julle word geïntimideer met dreigemente van vervolging nie.

"Daar is minstens twee redes hoekom julle nie gekeer mag word om Simply Slim te verkoop nie," lui die kennisgewing.

Volgens Adriaanse het Simply Slim op 4 Maart dokumente by die hooggeregshof in Pretoria ingedien met die plan om teen die MBR se besluit te appelleer.

Hy het gesê dit beteken die MBR-besluit word outomaties opgehef en agente kan voortgaan om selfs die ou produk te verkoop. Adriaanse meen die nuwe produk mag verkoop word omdat dit voorgelê is ingevolge die MBR se ouditkennisgewing R204 van 2002 en nou ’n "registernommer" het.

Die MBR en die departement het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.
Die ouditkennisgewing waarna Simply Slim verwys, het die laaste paar jaar vir omstredenheid gesorg.

Verspreiders van aanvullende medisyne (AAM) gebruik dit om verkope van hul produkte te regverdig, maar die produkte is nog nie deur die MBR geëvalueer nie omdat daar nog nie AAM-regulasies bestaan nie.

 

 

17 April 2010
Simply Slim wil hof toe oor verbod
Antoinette Pienaar

Simply Slim wil die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) hof toe vat om die verbod op verkope van dié verslankingsproduk te laat hersien.

Die maatskappy beweer hy het reeds op 4 Maart geappelleer teen die MBR se besluit om verkope op te skort en mag sy ingevoerde ou produk eintlik steeds verkoop as hy wil.

Dit kom nadat die departement van gesondheid eergister in ’n verklaring gesê het Simply Slim mag ook nie sy nuwe produk verkoop voordat dit nie behoorlik vir veiligheid, gehalte en doeltreffendheid geëvalueer is nie.

Die MBR het op 27 Januarie besluit om Simply Slim-verkope op te skort nadat sy laboratoriumtoetse glo getoon het dit bevat die voorskrifmedisyne sibutramien, al word dit as kruiemiddel bemark.

Die MBR het geëis dat die middel as medisyne geregistreer word. Simply Slim het verlede Vrydag ’n nuwe verslankingsmiddel met dieselfde naam as die oue bekend gestel.

Dit word nie meer van China ingevoer nie, maar plaaslik deur Biomox in Pretoria vervaardig.

Simply Slim beweer hy het die laaste weke nou saam met die MBR gewerk en op 29 Maart ’n "registernommer" vir die nuwe produk gekry. Die dokument wat aan Beeld getoon is, is ’n erkenning dat die departement van gesondheid sekere dokumente rakende Simply Slim ontvang het met die oog op toekomstige registrasie as aanvullende medisyne.

Simply Slim beweer in sy verklaring hy het die MBR reeds op 4 Maart laat weet die raad het ’n onbillike prosedure gevolg toe hy besluit het om verkope op te skort.
Simply Slim het glo aan die MBR gesê die produk sal voortaan plaaslik vervaardig word en beweer hy het die MBR genooi om sy maatreëls vir veiligheid en gehalte te bespreek, maar geen reaksie ontvang nie.

Die maatskappy sê hy het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebring waarmee hy die notule van die MBR se vergadering op 27 Januarie wou hê, sowel as skriftelike bewyse van die sibutramientoetsresultate en die publiek se klagtes.

Simply Slim beweer die MBR-verteenwoordigers het op ’n vergadering op 8 April bevestig die opskorting van verkope geld slegs die ingevoerde produk. Die departement van gesondheid het nie teen druktyd op die jongste verwikkelinge gereageer nie.

Wat hulle gedoen het

  • Verbreek bande met die maatskappy William Morrison wat die ou produk van China ingevoer het.
  • Dank mnr. Marius Venter ná ’n interne twis af. Venter was ’n direkteur van Simply Slim en William Morrison. Hy het beweer hy het die verslankingsmiddel in China laat ontwikkel.
  • Vra Biomox in Pretoria om ’n "nuwe" produk te vervaardig.
  • Laat minstens twee besendings by ’n Sedek-laboratorium toets. Albei is glo sibutramienvry. Een van die formules bevat glo die kruieverslankingsmiddel Forslean, wat nie voorheen in die produk was nie. Die ander formule bestaan glo uit bestanddele wat veronderstel was om in die ou produk te wees.
  • Stel op 9 April ’n "nuwe" Simply Slim bekend en bemark dit met die ou getuigskrifte.

 

16 April 2010
‘Nuwe Simply Slim mag nie verkoop word’
Antoinette Pienaar

Die omstrede verslankingsmiddel Simply Slim wat pas opnuut bekendgestel is, is steeds nie deur die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) "goedgekeur" nie en mag nie verkoop word nie.

Die maatskappy het die laaste weke beweer het hy het "nou saam met die MBR gewerk" om te verseker hy voldoen aan sekere kriteria.
Hy het verlede Vrydag ’n nuwe plaaslik vervaardigde produk met dieselfde naam bekendgestel.

Mnr. Fidel Hadebe, woordvoerder van die departement van gesondheid, het egter gister gesê Simply Slim het nog geen inligting aan die MBR voorgelê wat die veiligheid, gehalte en doeltreffendheid van sy produk staaf nie.

Die MBR het op 27 Januarie besluit om verkope van Simply Slim op te skort en dit op 5 Februarie in ’n verklaring bekend gemaak nadat sy inspekteurs die voorskrifmiddel sibutramien daarin gekry het, terwyl dit as ’n 100%-kruiemiddel bemark is.

Simply Slim het beweer sy produk is vervals.

Hy het ook beweer die MBR se opdrag was dat besendings van die produk "herroep" word en nie dat die produk aan die mark "onttrek" word nie.

Volgens Hadebe is die nuwe produk se bekendstelling ’n oortreding van die MBR-opdrag dat verkope gestaak word totdat die produk behoorlik geëvalueer is.

Dit moet as medisyne geregistreer word omdat sibutramien ’n skedule?5-middel is.

Die MBR het klagtes van die publiek oor lewensgevaarlike newe-effekte gekry.

Daaronder was nierkomplikasies, kardiovaskulêre simptome en gemoedsveranderings.

"Die MBR het besluit die risiko’s verbonde aan die gebruik van die produk weeg swaarder as die voordele en totdat die MBR die produk se veiligheid, gehalte en doeltreffendheid ontleed het, word verkope daarvan verbied."

Mnr. Lance Rothchild, Simply Slim se woordvoerder, het gistermiddag gesê die maatskappy bespreek nog die MBR se verklaring met sy regspan.

Simply Slim het gesê sy nuwe produk bevat geen sibutramien nie, maar hy gebruik nog getuigskrifte van die ou produk, wat dit wel bevat het, om die nuwe te bemark.

 

 

15 April 2010
Simply Slim-direkteur ‘wat dit laat ontwikkel’, afgedank
Antoinette Pienaar

Mnr. Marius Venter, wat beweer hy het die verslankingsmiddel Simply Slim in China laat ontwikkel, is afgedank as direkteur van die Simply Slim-maatskappy.

Mnr. Lance Rothschild, mediawoordvoerder van die maatskappy, het gister bevestig dié besluit is eergister by ’n raadsvergadering geneem.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) in Februarie opdrag gegee het dat die verkope van Simply Slim opgeskort word omdat MBR-inspekteurs die voorskrifmiddel sibutramien daarin gekry het.

Venter was glo lanklaas op kantoor en het onlangs aan Beeld gesê hy "weet nie wat daar (die Simply Slim-kantore) aangaan nie". Hy is nie meer telefonies bereikbaar nie.

Hy was glo haaks met die maatskappy se ander twee direkteure, mnr. Dirk Uys en me. Mariesa Troskie.

Venter het kort nadat Beeld in Januarie oor Simply Slim se sibutramieninhoud begin berig het in ’n radio-onderhoud beweer daar is ’n "komplot" teen die produk. Die maatskappy het beweer die produk is deur mededingers vervals of besmet.

Simply Slim, wat die laaste paar weke glo sonder Venter bestuur is, het egter in Maart bande verbreek met Venter se maatskappy William Morrison, wat die produk van China ingevoer het en glo verantwoordelik was vir veiligheid.

Venter het verlede jaar in radio-onderhoude beweer hy het ’n paar jaar gelede op ’n gebou gestaan en was op die randjie van selfmoord onder meer weens geldelike probleme.

Hy het glo ’n boodskap van Bo gekry oor ’n "oplossing" en is glo na sy broer in China, waar hy glo deur middel van Chinese kontakte Simply Slim oor ’n tydperk van jare laat ontwikkel het.

Venter het onder meer beweer daar is kliniese proefnemings in China met die produk gedoen, maar Simply Slim kon ondanks herhaalde navrae nooit die studie aan Beeld toon nie. Hulle het ook beweer die naam van die fabriek waar die produk in China vervaardig is, is "vertroulik".

Venter het Simply Slim vroeg verlede jaar begin bemark. Beeld het onlangs vasgestel dit was binne enkele maande ná sy mislukte poging om die kruie-ereksiepil Jiga laat in 2008 te bemark.

Jiga is glo deur nog ’n maatskappy, William Morrison International Trading, gefinansier wat aan Beeld bevestig het hy het kort voor Simply Slim se bekendstelling bande met Venter verbreek.

Simply Slim het intussen ’n nuwe plaaslik vervaardigde produk met dieselfde naam bekend gestel, maar gebruik steeds die getuigskrifte van Venter se William Morrison-produk om dit te bemark.

Daar is glo nog nie met die nuwe produk kliniese proefnemings op mense gedoen nie.

 

 

13 April 2010
Simply Slim vat hul agente vas wat steeds ou voorraad verkoop
Antoinette Pienaar
 

Simply Slim het die afgelope paar weke ses agentskappe weggevat by agente wat glo aangehou het om ou voorraad te verkoop nadat die Medisynebeheerraad (MBR) verkope van dié verslankingsmiddel opgeskort het.

Beeld het ’n eedsverklaring bekom waarin beweer word sekere Simply Slim-agente in Bloemfontein het ná die verbod op 5 Februarie aangehou om Simply Slim te bemark en te verkoop.

Die MBR het op dié dag in ’n mediaverklaring gesê hy het verkope opgeskort nadat sy toetse die voorskrifmiddel sibutramien in besendings gekry het.

Mnr. Lance Rothschild, mediawoordvoerder van Simply Slim, het die bestaan van die eedsverklaring bevestig.

Beeld het die afgelope twee maande by verskeie bronne bewerings gehoor dat die publiek agente tot R1?000 per boksie ou Simply Slim aangebied het.

Dit het gebeur terwyl Simply Slim besig was om sy ou voorraad aan die mark te onttrek en te verbrand.

Luidens die eedsverklaring het agente die produk versteek en in Bloemfontein vir tot R700 verkoop.

Die middels het voor die MBR-verbod R590 gekos, maar ná die verbod glo gesog geraak.

Talle vroue het op forums soos Facebook gespog oor hul liefde vir sibutramien, dat hulle die middel steeds kon bekom en dat hulle nie omgee vir die moontlike gevare nie, solank hulle gewig kan verloor.

Geregistreerde sibutramien is net op doktersvoorskrif beskikbaar en die newe-effekte sluit hartkloppings, hoë bloeddruk, hoofpyn en selfs gemoedsveranderinge in.
Simply Slim het Vrydag ’n plaaslik vervaardigde produk met dieselfde naam bekend gestel.

Mnr. Justin Adriaanse, uitvoerende hoof, het gesê dit is onduidelik hoe sibutramien in die ou produk beland het.

"Ons het verskeie swak plekke in ons verkryging en verspreidingsprosesse en -beheer gekry."

Die maatskappy het nou bande verbreek met William Morrison, die maatskappy wat die ou Simply Slim van China ingevoer het en verantwoordelik was vir die produk se gehalte en veiligheid.

Mnr. Marius Venter, een van Simply Slim se drie direkteurs, is egter ook ’n direkteur van William Morrison. Venter, wat vroeër in bemarkingspraatjies beweer het hy het Simply Slim in China laat ontwikkel, het onlangs glo in ’n prokureursbrief beweer Simply Slim het hom afgedank. Hy wou glo sy aandele verkoop.

Simply Slim ontken hy is afgedank.

 

 

6 April 2010
‘Ons produkte is nié generiese Simply Slim’
Antoinette Pienaar

Hulle is nie "generiese" weergawes van Simply Slim nie en poog ook nie om met Simply Slim geassosieer te word nie.


So het ’n apteker en sakeman wat by die vervaardiging van drie plaaslik vervaardigde verslankingsprodukte betrokke is, gereageer nadat Simply Slim die laaste paar weke op sy webwerf beweer het bemarkers mislei die publiek oor ’n verband met dié produk.

Mnr. Colin Levy, apteker by Triton Pharma-care, het gesê die formulering van hul Cer10ly Slim en Supreme Slim verskil van Simply Slim s’n.

"Ek kan jou waarborg ons koop slegs plaaslike grondstowwe vir ons produkte en sal onder geen omstandighede verdagte, geheime of onwettige bestanddele in vervaardiging gebruik nie."

Triton se twee produkte, asook die produkte Super Slim en Easy Slim, word op Simply Slim se webwerf gelys.

Mnr. André Coetzee van Super Slim beweer sy produk is al sewe jaar op die mark onder verskillende handelsname en bevat bestanddele van die hoodia-plant wat nie in Simply Slim se bitterlemoen-formule voorkom nie.

Beeld kon nie die verspreiders van Easy Slim opspoor nie.

Simply Slim, waarvan verkope in Februarie deur die Medisynebeheerraad (MBR) opgeskort is omdat dit die voorskrifmiddel sibutramien bevat het, het kort daarna beweer hul produk is vervals. Hulle "waarsku" verbruikers nou dat hulle vir "mededingers" moet oppas en is besig om ’n nuwe plaaslik vervaardigde middel bekend te stel. Hulle het bande gebreek met William Morrison, wat die vorige produk van China ingevoer het, en gebruik nou die vervaardiger Biomox in Pretoria.

Simply Slim beweer bemarkers maak stellings dat hul produkte die "nuwe Simply Slim" of "generiese" weergawes daarvan is. Daarby word die publiek "mislei" deurdat ander verslankingsprodukte met Simply Slim verbind word.

Coetzee het toegegee ’n foto op sy bemarkingsmateriaal lyk soortgelyk aan dié van Simply Slim, maar beweer dit is ’n katalogusfoto van ’n Italiaanse fotograaf.

Hy het gesê die hoodia wat hy in Super Slim gebruik, word plaaslik gekweek.

Mnr. Lance Rothschild, woordvoerder van Simply Slim, het aan Beeld gesê mededingers gebruik Google-soektogtegnieke waarin hulle die woorde "simply" en "slim" gebruik om hul produkte onder die publiek se aandag te bring.

 

 

5 April 2010
Nuwe Simply Slim by agente afgelewer
Antoinette Pienaar

Simply Slim het die afgelope naweek begin om sy "nuwe" plaaslik vervaardigde verslankingsmiddel by agente af te lewer.

Die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) het in Fe-bruarie verkope opgeskort van sy vorige produk waarin die voorskrifmiddel sibutramien gevind is.
Mnr. Lance Rothschild, mediawoordvoerder van Simply Slim, het aan Beeld gesê die maatskappy het bande verbreek met William Morrison, wat die ou produk van China ingevoer het.

Rothschild bly egter ontken dat die Pretoriase sakeman mnr. Marius Venter (39), ’n direkteur van Simply Slim en William Morrison, afgedank is.

Beeld het betroubaar verneem Venter is haaks met mnr. Dirk Uys en me. Mariesa Troskie, sy mededirekteure by Simply Slim.

Hy was volgens ’n betroubare bron lanklaas op kantoor en nie by die laaste raadsvergadering nie.

Luidens ’n prokureursbrief wat Beeld vroeër bekom het, beweer Venter sy mededirekteure versprei "vals aantygings" teen hom en hy oorweeg ’n lastereis en om sy aandele te verkoop.

Volgens Rothschild doen Simply Slim glad nie meer sake met William Morrison nie.
Hy het gesê Simply Slim kan nie pa staan vir die inhoud van vraghouers wat William Morrison nou die land inbring nie.

William Morrison het in Maart verlede jaar die ou Simply Slim aan die MBR voorgelê met die oog op toekomstige registrasie as aanvullende medisyne.
Venter het egter deurentyd in Simply Slim-bemarkingspraatjies beweer die MBR het sy produk "goedgekeur".

Venter het beweer Simply Slim is ’n "unieke" produk wat hy in China laat ontwikkel het.

Die ou Simply Slim is bekend gestel kort ná Venter se mislukte pogings om die ereksiepil Jiga laat in 2008 namens William Morrison International Trading te bemark.
Luidens ’n brief van ’n maatskappy genaamd Kaicheng behoort die "Simply Slim-dossier" en handelsnaam aan Venter.

Dié brief is glo in Julie verlede jaar aan ’n agent gestuur om te bewys die produk se formule sal nie aan enigiemand anders in die wêreld verkoop word nie.
Rothschild kon nie daaroor kommentaar lewer nie en Venter antwoord die laaste twee weke nie sy selfoon nie.

Rothschild het bevestig die nuwe Simply Slim word deur Biomox in Pretoria vervaardig.

Beeld verneem die MBR hou plaaslike vervaardigers fyn dop om seker te maak hul produkte is veilig.

Daar is nog nie regulasies vir aanvullende medisyne nie. Bemarkers van kruieverslankingsmiddels is dus nie verplig om kliniese proefnemings wat doeltreffendheid bewys aan die MBR voor te lê nie.

 

1 April 2010
Sibutramien in dié verslankmiddels gekry
Antoinette Pienaar

Minstens agt verslankingsprodukte wat van China na Suid-Afrika ingevoer is, het tot dusver positief getoets vir die voorskrifmiddel sibutramien.

Beeld het vandeesweek betroubaar verneem die inspekteurs van die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) het hul hande vol om dié soort middels betyds te keer voordat dit die mark haal.

Benewens besendings Simply Slim, Forme Slim, NuEvo en HNS New Me waaroor vroeër vanjaar berig is, het die middels Maxi Slim, Studio Slim, Evo Slim en Slimline glo ook die afgelope twee maande positief getoets vir sibutramien.

Sommige van die verspreiders het aan Beeld gesê hulle het die ingevoerde besmette produkte aan die mark onttrek en die meeste het begin om eerder Suid-Afrikaanse vervaardigers te gebruik, onder meer omdat hulle Chinese verskaffers wantrou.

Kenners waarsku dit is uiters gevaarlik om ongeregistreerde voorskrifmedisyne soos sibutramien in te neem omdat dit gevaarlik hoë vlakke van aktiewe bestanddele kan bevat.

Nadat me. Carla Kotze van Malmesbury 22?kg met Simply Slim verloor het, het sy haar kapsules laat toets en vasgestel twee dosies bevat kapsules met onderskeidelik 33,2?mg en 28,4?mg sibutramien.

Die inhoud was dus dubbel so sterk as die sterkste voorskrifverslankingsmiddel op die mark en sy was boonop nie onder dokterstoesig nie.

NuEvo het volgens toetse by Pharmaworx tot 29?mg sibutramien bevat.

Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het in Januarie gewaarsku mense met ’n geskiedenis van hartvatsiekte, beroertes, hartritmeprobleme, hartversaking en bloeddrukprobleme (bo 145/90 mmHg) moet nie eens die toegelate hoeveelheid geregistreerde sibutramien (maksimum 15?mg) inneem nie.

Die MBR se inspekteurs het die afgelope paar maande alle verslankingsprodukte by doeanepoorte gekeer en getoets. Sommige verspreiders het self hul produkte laat toets.

Die MBR het verkope van Simply Slim in Februarie opgeskort nadat sy toetse sibutramien daarin gekry het. Kort tevore het die verspreiders van HNS New Me, Forme Slim en NuEvo hul produkte van die mark gehaal.

Beeld verneem Maxi Slim het sy produk pas aan die mark onttrek.

Talle produkte wat onttrek is en baie van die plaaslik vervaardigde nuwe verslankingsmiddels het nie kliniese proefnemings wat bewys dit is op mense getoets en was doeltreffend nie.

Aptekers in dié bedryf het gesê plaaslike fabrieke wat die vervaardiging nou oorneem, word fyn deur die MBR dopgehou en voldoen meestal aan veiligheidstandaarde.

Die regulasies om aanvullende medisyne te registreer, bestaan egter nog nie.

Só sê hul woordvoerders

  • Maxi Slim: Weier om met Beeld te praat. Verkope is glo gestaak.
  • NuEvo, Studio Slim, Slimline en Evo Slim: Die besmette besendings is onttrek en verkope opgeskort. Studio Slim en Evo Slim het glo nooit die mark gehaal nie en die besmette komponent in Slimline was glo herverpakte NuEvo. ’n Nuwe produk, Nu-Evo2, is pas bekend gestel en word plaaslik deur Cipla gemaak.
  • Simply Slim: Biomox Pharmaceuticals in Pretoria maak glo die nuwe produk. Simply Slim het glo sy bande met William Morrison, wat die middel van China ingevoer het, verbreek.
  • Forme Slim: Mnr. Maeder Labuschagne sê besmette voorraad is verbrand en nuwe "skoon" voorraad wag op die lughawe. Hy wil voortaan eerder plaaslik vervaardig.
  • HNS New Me: Mnr. André Scharnek, verspreider, sê invoer is gestaak en dit word nou plaaslik gemaak.

Mnr. Marius Venter, wat nou deur Simply Slim as direkteur in die pad gesteek is.

 

Leave a Reply

  

  

  

You can use these HTML tags

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>